31/05/2026
𝗥𝗘𝗣𝗨𝗕𝗟𝗜𝗘𝗞𝗗𝗔𝗚
𝙈𝙚𝙩 𝙚𝙧𝙠𝙚𝙣𝙣𝙞𝙣𝙜 𝙖𝙖𝙣 𝙤𝙣𝙨 𝙣𝙪𝙬𝙚 𝙗𝙞𝙗𝙡𝙞𝙤𝙩𝙚𝙠𝙖𝙧𝙞𝙨, 𝘿𝙨. 𝙎𝙡𝙖𝙗𝙗𝙚𝙧𝙩 𝙡𝙚 𝘾𝙤𝙧𝙣𝙪
𝗪𝗜𝗘 𝗜𝗦 𝗘𝗡 𝗕𝗘𝗛𝗢𝗢𝗥𝗧 𝗦𝗢𝗘𝗪𝗘𝗥𝗘𝗜𝗡 𝗧𝗘 𝗪𝗘𝗘𝗦 𝗜𝗡 𝗢𝗡𝗦 𝗥𝗘𝗣𝗨𝗕𝗟𝗜𝗞𝗘𝗜𝗡𝗦𝗘 𝗩𝗢𝗟𝗞𝗦𝗟𝗘𝗪𝗘?
“… die gesag van die volkstem soos dit deur die Nederlandse en Kaapse Patriotte gehuldig is, dit wil sê, hiervolgens is die volk die bron van alle staatsgesag, en deur middel van die volkstem wou die Afrikanervolk hom in die Boere-republieke handhaaf, en het hy dit ook gedoen.
Dit is van wesenlike belang om nie die feit uit die oog te verloor nie dat die Voortrekkers en hul nasate in die twee Boere-republieke aan die begrip “volk” nie dieselfde betekenis as die Patriotte of die liberaal-rewolusionêres geheg het nie. Dit is juis hulle besondere opvatting van die volksbegrip wat die gedagte van die oppergesag van die volkstem by die republikeinse Afrikaner van die 19de eeu enigsins temper. Vir hulle was die volk, soos dr. A.J.H. van der Walt dit stel, “die Voortrekkersvolk, sy stamverwante en diegene wat sonder skade in die volksverband opgeneem kan word”, of nog nader omskryf: “’n Protestants-Christelike volksgemeenskap wat in sy gewete gebonde en deur die Christelike Godsopenbaring gelei is.”
Dit is die stem van so ‘n volk wat Paul Kruger as die stem van God erken: “In de stem van het Volk heb ik gehoord de stem van God, den Koning der Volken, en ik gehoorzaam,” of in „de stem des Volks . . . (meen ik ook) de stem Gods te herkennen”.
Uit hierdie woorde is dit duidelik dat die opvatting dat die hoogste en finale gesag by die volk berus, nie onvoorwaardelik deur die Afrikaner aanvaar is nie, maar dat die Calvinistiese leerstuk dat alle soewereiniteit en dus ook alle gesag in die eerste en laaste instansie by God berus, erkenning verkry. Ten spyte van hierdie besondere beskouing wat die Afrikaner oor die begrip “volk” gehad het en waarmee die gedagte van die oppermag van die volk enigsins versag word, is dit nog nie met die suiwer Calvinistiese staatsbeskouing van die goddelike herkoms van die owerheidsgesag te versoen nie. Hierdie poging tot versoening, wat egter nog steeds op ‘n teenstrydigheid uitloop, sou nie net kenmerkend vir die Boere-republikanisme wees nie, maar vir die ganse Christelike republikeinse strewe.
Die spreuk vox populi, vox Dei (die stem van die volk is die stem van God), wat by herhaling deur Nederlandse Calviniste in die 16de en 17de eeu gebruik en ook in Suid-Afrika oorgeneem is, wou as volkstem-idee die soewereiniteit van God beklemtoon in dié sin dat ‘n goddelike gesag die volkswil beheers. In sy staatsregtelike sin is hierdie spreuk ook nie Calvinisties nie en sou dit alleen wees as dit gelui het dat Gods wil die wil van die volk moet wees.
Dr. A. Wypkema toon in sy werk De Invloed van Nederland op Ontstaan en Ontwikkeling van de Staatsinstellingen der Z.A. Republiek tot 1881 op gesag van ander aan dat waar die Calvinistiese of presbiteriale kerkregering die kerkraad kies onder leiding van Christus, wat deur die Heilige Gees Sy gemeente, in onderworpenheid aan God, regeer, die stem van die gemeente met die stem van God geassosieer is.
Volgens dr. Wypkema is hierdie gedagte op die politieke terrein oorgedra, veral omdat Kerk en Staat vroeër in Nederland so na aan mekaar gestaan het, en Kerk en Staat in die lotsgeskiedenis van die Afrikaner in die 18de en 19de eeu altoos ‘n diepere geestelike eenheid uitgemaak het.
Op dié wyse het die Calvinistiese opvatting van die volkstem-idee, waar daar alleen sprake is van ‘n goddelike gesag wat die volkswil beheers, ook in die Boere-republikanisme tot uiting gekom.
Dit is hierdie opvatting van die volkstem-idee wat dus op ‘n paradoksale wyse aan die diepgewortelde Patriotte-beskouing van die oppergesag van die volkstem ‘n Christelike inhoud probeer gee het.
Ons kan dus met dr. Wypkema saamstem dat “volksoewereiniteit nie deur die Trekkers en hul nasate tot ‘n rewolusionêre strydkreet verheerlik sou word nie, maar ‘n eg Afrikaanse stempel sou dra”, en dit impliseer dat dit ook ‘n Christelike karakter sou dra.”
Bron: MCE van Schoor & JJ van Rooyen, Republieke en Republikeine (Bloemfontein: Nasionale Boekhandel, bl. 130-131).
pro regno.com
https://proregno.com/2023/05/31/republiekdag-besinning-31-mei-1961-2023